90ste Verjaardag – Sannatjie

sannatjieDie 27ste September 2010, vier Susanna Gertruida Sandow(gebore LEONARD) of te wel tanna/ouma “Sannietjie/Sannatjie” haar 90ste verjaardag. In erkening van hierdie besonderse en geseënde mylpaal wens ons haar baie geluk en dra ons hierdie kort huldeblyk aan haar op:

Agtergrond
Susanna Gertruida, dogter van Jan Daniel LEONARD en Elsie Aletta Cecilia GRIEZEL, is gebore op 27 Sep 1920 te Volksrust. Sy is een van drie kinders waaronder ‘n ouer suster “Miemie” of te wel Maria Elizabeth Francina LEONARD en ook ‘n baba boetie wat ‘n paar dae na geboorte oorlede is.
Sy trou met Frederick Carl SANDOW in 1936/37 en 4 kinders word uit die huwelik gebore: Fred, Elsie, John en Jeannie.


Newcastle
Behalwe vir die begin jare in Volksrust en ‘n kort tydperk waartydens hulle in Glencoe woon, is Newcastle haar tuiste vir die meeste van haar lewe en hier woon sy en haar seun John ook vir baie jare saam na die dood van haar man Fred in 1972.

Sy werk vir etlike jare by die plaaslike “OK”. Daarna word sy ook entrepreneur en maak ‘n inkomste met haar naaldwerk en breiwerk deur ondermeer truie te brei asook gordyne en voorskote te maak en te verkoop.

Plesiertjies en gewoontes

By haar huis sit sy haar werkywer voort en trakteer sy dan ook haar familie en almal wat kom kuier of aansit vir ete met lekkernye en borde wat kreun onder heerlike kos.
Indien jy by haar oornag het sal jy kan getuig van die reuse boere-ontbyt, die dorpsbesoek daarna en lekkernye of koek wat dan aangeskaf word. Dit is nou te sê as sy nie reeds self haar eie gebak het nie! Dit word dan terug by die huis saam met tee of koffie geniet en moenie dink middagete en aandete word enigsins afgeskeep nie!

Net so ywerig soos in die kombuis is sy ook in haar pragtige tuin gewees met netjiese blombeddings en plante wat “geblom” het van al die aandag.
En natuurlik sou sy met haar vrygewige geaardheid nooit huiwer om vir jou ‘n steggie af te breek sodat jy dit kon saamneem vir jou eie tuin nie.

Buiten breiwerk en tuinmaak is een van die min plesiertjies wat sy haarself gegun het om elke nou en dan ‘n klein weddenskap op ‘n perdewedren of by die casino te plaas.
Verder, ken jy haar lank sou jy dalk ook haar gewoonte opgemerk het om sinne baie keer onbewustelik te eindig met die woorde “en so…” byvoorbeeld “Ek koop of bak maar ‘n koek, en so…”

Afskaal
Na die afsterwe van haar seun John in 2001 en as gevolg van die ouderdom wat haar nie meer toelaat om na die verantwoordelikhede van ‘n huis om te sien nie, trek sy vir ‘n paar jaar Secunda toe, maar keer later na Newcastle terug waar sy tans in die kompleks “Le Belle Vie” woon.

Gesondheid en nageslag
Behalwe vir ‘n knie-vervangingsoperasie en gepaardgaande ongemak daarna is haar gesondheid oor die jare baie goed gewees.
Goeie gesondheid en ‘n net so gesonde nageslag van 4 kinders, 8 kleinkinders en 17 agter-kleinkinders getuig van voorwaar geseënde 90 jare.

As familie wens ons “Sannietjie/Sannatjie” baie hartlik geluk en bid haar nog vele jare toe en sluit af met ‘n huldeblyk aan haar in die woorde van haar kinders:

Hiermee salueer ons Haar:
ons liefste Moeder…
ons Ouma…
ons Grootouma…
ons Tanna…
ons Vriendin…

Sannie Sandow

‘n Wenner in Christus
‘n Vrou van integriteit
‘n Moeder by uitnemendheid
‘n Ouma sonder weerga
‘n Wenner in die lewe…
Wat met innerlike blydskap
en vrede koershou…
Met volharding dag na dag
die wedloop van die lewe loop…
Geanker in die Here.

GOD het gesê: “Die lewe hou ewig aan!”
Hy gee die vermoeides krag.
Hy versterk die wat nie meer kan nie”.
Jes 40:29

Fotos oor die jare