Terugblik – Joubertsdal deur Ellie Loubser (Nee. Joubert)

(Met innige dank verskaf deur Hans Linde – Lindebond)

Joubertsdal

As kind het ek baie saam met my pa, Frikkie (Grote) Joubert rondgeloop. Die inligting waaroor ek beskik het hy maar so mettertyd vir my vertel. Sy oupa was Gideon Francois Joubert en sy ouma Elsje Sophia van Eeden.

Oupa Gideon is baie jonk oorlede terwyl sy vrou hulle vierde kind, ons oupa Jacobus Petrus Willem verwag het. Omdat Oupa (Jacobus Petrus Willem) sonder ’n pa grootgeword het, is min van hom bekend.

Oupa se ma (Elsje Sophia) is later weer getroud met ’n Steyn (Johannes Franciscus), natuurlik in gemeenskap van goedere. Hy staan borg vir sy broer met haar geld, dié gaan bankrot en Ouma verloor toe haar grond. Hy is oorlede en Ouma bly agter, arm en met vier klein seuntjies. Sy het toe geen heenkome nie. Sy stap met haar kinders en gaan woon êrens langs die Breërivier, waar Bruintjiesrivier in Breërivier inloop, in ’n klein huisie. Waarvan hulle geleef het, is onbekend. Soos haar seuns mondig geword het, het die Barry-broers, bekende prokureurs op Swellendam, hulle geld by die weesheer gekry, natuurlik teen ’n groot kommissie. Toe Oupa (Jacobus Petrus Willem), die jongste, se beurt kom, besluit hy om ’n perd, esel en kar te leen en sy geld self in die Kaap te gaan haal. Hy was verbaas hoeveel geld hy meer as sy broers gekry het, natuurlik sonder die Barry’s se kommissie.

Oupa is later getroud met ons ouma, Elsje Maria Dedrika Linde en hulle het saam met sy ma in Bruintjiesrivier gaan woon. Sy ma (Elsje Sophia) was nooit van Oupa geskei nie en sy het tot haar dood toe by hom gebly. Oupa besluit toe om sy pa (Gideon Francois) se grond terug te koop. Ondertussen het die plaas verskeie eienaars gehad, want almal het daar bankrot gegaan en die huis en die plaas was in ’n verwaarloosde toestand. Ouma se ma (Elsje Sophia) het onthou hoe sy op die huis se fondamente gespeel het toe haar pa, ene Van Eeden (Frederik Jacobus), die huis gebou het. Ons het die datum op 1793 uitgewerk. 

Die steenoonde is ook later oopgeploeg. Oupa vernoem toe die plaas, wat as Bruintjiesrivier bekend was, na Joubertsdal. Die rivier het sy oorsprong op Joubertsdal gehad, die deel waar oom Dirk gewoon het. Hy het sy plaas Waterval genoem, na die mooi waterval wat die oorsprong van die rivier is. Die baken staan vandag nog op die hoë bergspits voor die huis.

Die oorspronklike huis op die plaas was naby die ou stoor en is in 1922 afgebreek. Ek onthou die murasie en wie almal daar gewoon het, sal ek graag wil weet. Oral op die plaas het mense gewoon wat nie grond gehad het nie, vandaar al die murasies. Hulle het tuin gemaak en verskeie vrugtebome het ons dus op onmoontlike plekke aangetref. Pappa se suster, Aunt Sophie en haar man het, nadat hulle getroud is, tydelik in die ou huis gewoon. In daardie huis was ook ’n donker vertrekkie waarin die slawe wat verbrou het, opgesluit was. Die deur van dië vertrek is later in oom Hans se spens ingebou op Bakovenshoogte. Laasgenoemde was nie deel van Joubertsdal nie en is aangekoop deur ons oupa. Sy drie seuns op Joubertsdal se plase was ongeveer 550 morge groot. Nog ’n deel van die plaas het na sy dogter Sophie gegaan.

Oom Koos se huis se boukoste was ses honderd pond en oom Dirk s’n ’n duisend pond. Pappa moes later meer vir sy grond betaal, omdat hy die opstal en die buitegeboue gekry het.

Water was maar altyd ’n kwessie, want geen behoorlike voorsiening is vir opgaargeriewe gemaak nie. Vroeër jare moes al die water vir huisgebruik met emmers uit die rivier aangedra word. In 1933, die depressiejare, het die regering ’n dambouprojek begin om werk vir die armblankes te skep. Met graaf en pik teen vyf sjielings per dag en die voorman teen sewe sjielings per dag het hulle die damme op die plaas gemaak. Geen masjiene was beskikbaar nie. ’n Tydrowende harde werk wat maande geneem het om ’n behoorlike dam te maak. 

Om Joubertsdal te bekom, moes oupa Koos togte Vrystaat toe ry om geld te verdien. Met sy ossewa het die togte drie maande geneem. Ouma was ’n vrou met ’n sterk persoonlikheid en moes dan alleen agterbly en na die boerdery omsien. So is die plaas stuksgewys teruggekoop. 

As gevolg van die stadige en ongerieflike verkeer en gebrek aan oornagplekke het talle mense snags op Joubertsdal kom huisvesting soek. Pappa onthou hoe hy as kind baie oggende op ’n baadjie op die vloer wakker geword het. In die nag is al sy beddegoed vir die moeë reisigers gebruik.

Motors was slegs vir ver afstande gebruik en almal wat nie na Middelrivierskool toe kon stap nie, het per perdekar (trap) gery. Die paaie was veilig en niemand is ooit aangerand en vermoor nie.

Ek onthou hoe die vliegtuie se roete vanaf Kaapstad na Port Elizabeth al langs die Langeberg was en hoe ons ons verwonder het oor die vliegtuie wat oor ons koppe gevlieg het. 

Op Joubertsdal was luiperds (ons het gepraat van tiere) ’n groot gevaar. Verskeie skape is in die bergveld doodgebyt tot groot verliese vir die boere. Oom Hans op Bakovenshoogte was vindingryk en het ’n baie doeltreffende vanghok gemaak en verskeie luiperds gevang. 

Pappa onthou dat in sy kinderjare ’n boerekommando na die een of ander oorlog op pad was en Ouma het vir hulle ontbyt gegee. Na die oorlog het die kommandant uit dankbaarheid vir ouma Ellie ’n geelhout-spenskas present gegee. Dit het in Joubertsdal se spens gebly tot 1961 toe Pappa die plaas verkoop het. Hy het dit toe aan die museum op Swellendam geskenk.

Die ou stoor op die plaas was eers ’n woonhuis met baie pakkamers. Die een vertrek, sonder venster en met ’n grondvloer, was die skoolkamer. Oupa het van tyd tot tyd iemand gehuur om die kinders te leer. As die onderwyser dros, was die kinders soms lank sonder skool en het intussen alles verleer. So onbevredigend was dit dat Oupa en van die ander boere besluit het om die skool in Middelrivier te laat bou. Elkeen het maar iets bygedra en so was Pappa-hulle die eerste leerlinge van die nuwe skool. Later was daar tot drie personeellede.

Onder die ou stoor was ’n groot turksvyboord wat ’n groot aantrekkingskrag vir baie gehad het. Na die cochinele dit getakel het, het dit tot niet gegaan. Verskeie mure en krale wat van klei gemaak is, was op die plaas. Dit was oorblyfsels van vorige bewoners.

Oupa Koos was in ’n stadium parlementslid vir Swellendam. Hy het niks daarvan gehou nie, want hy kon nie die geflankeerdery van die mans met die ander se vrouens verdra nie. Hy was ’n streng godsdienstige mens. Dit was ook in dié tyd toe Cecil John Rhodes en Merriman in die parlement was. Pappa het vertel dat hy hulle dikwels gesien het. Ek wonder hoeveel die boere van die Engelse toesprake verstaan het.

Aangesien geld so skaars was, moes Pappa, so groot, en oom Dirk, so klein, saam hulle beste klere dra. Pappa se voete is met vet gesmeer om in die klein skoene te kom, maar sonder sukses. Ouma sê maar net die skoene is nog gaaf en goed. Waar het die moue en broekspype nie gesit nie?

Oupa het in 1918, toe Pappa en Mamma getroud is, Swellendam toe getrek. Sy huis was waar die Koöp se geboue vandag staan. Ouma is in 1923 oorlede en Oupa op 91-jarige leeftyd in 1935. Toe hy die plaas aan die seuns verkoop het, het hy gesê hulle moet dit geniet. Daarom vra hy vir hulle dieselfde prys as wat hy daarvoor betaal het. Hy het gesê hy kon dit nooit geniet nie, want hy het te swaar gekry.

Volgens vandag se standaarde het ons primitief geleef. Ons het geen moderne geriewe geken nie. Elektrisiteit was nie beskikbaar nie, telefone het later jare gekom en motors ook maar later. Pappa het sy eerste motor, ’n Studebaker Semi Sedan, teen 395 pond in 1926 gekoop en die broers hulle s’n later. Niemand was goeie bestuurders nie omdat hulle so laat in hulle lewe motors bekom het en was redelik gevaarlik op die pad. Oral was grondpaaie en almal het met perdekarre oor die weg gekom. ’n Kapkar met twee mooi perde was gesog. Na Pappa se eerste trekker, die derde in Swellendam se distrik, het die mense gestroom om die wonderwerk te beskou. Ons drie susters het dié Saterdag ons pennie se sakgeld verbeur vir dié groot aankoop!

Alle vervoer van goedere het met eselwaens en die trein geskied. Gedurende die depressiejare in 1933 het landbouprodukte geen prys behaal nie as gevolg van die armblankevraagstuk. In 1939 tot 1945 het die oorlog uitgebreek en dit was ’n verdere terugslag. Min was beskikbaar soos byvoorbeeld seep, meelblom, suiker, breekware en klerasie was baie moeilik bekombaar. Boonop is petrol gerantsoeneer. Vir 200 myl se petrol per maand moes koepons by die magistraatskantoor gekry word. Sonder koepons kon jy nêrens petrol kry nie. Weer word perdekarre gebruik. Op Joubertsdal is met graan, lemoene en skape geboer.

Oupa JPW Joubert is in 1844 gebore en sy drie broers was Gideon, wat in Barrydale gaan woon het, Jan in die Vrystaat en Frikkie in Montagu. Oupa se kinders was die volgende:

  1. Ellen is getroud met Ben Viljoen van Robertson, maar vertrek Vrystaat toe.
  2. Gideon is getroud met Rosa van Eeden – Middelrivier.
  3. Koos is getroud met Cora van Eeden – Middelrivier.
  4. Barbara is getroud met Pieter van Eeden – Nooitgedacht.
  5. Miemie is getroud met Fanie Kriel – Montagu.
  6. Hans is getroud met Elizabeth Steyn – Leeurivier.
  7. Dirk is getroud met Daisy Bosman – Wellington.
  8. Frikkie is getroud met Bettie Badenhorst – Swellendam.

Oupa Koos was ’n merkwaardige persoon. As in aanmerking geneem word met watter agterstand hy begin het en wat hy vermag het, is hy te bewonder. Hy was ’n vredeliewende en baie hoflike man. Hy het altyd ander as u aangespreek. Ongelukkig was sy verstand as gevolg van verkalkte are al baie swak toe ek hom in sy hoë ouderdom leer ken het. Hy was jare in die kerkraad en daar is mooi foto’s in die konsistorie op Swellendam van hom as kerkraadslid. Hy was ’n oupa op wie ’n mens kon trots wees en dis ’n voorreg om ’n afstammeling van hom te wees.

Pappa het Joubertsdal in 1961 aan oom Attie van Eeden verkoop. Daarna is dit weer verkoop en nou behoort dit aan Duitsers wat direk uit Duitsland gekom het. In 1993 het hulle die huis se 200-jarige bestaan gevier en ek en my susters is ook genooi, omdat ons die laaste Jouberts was wat in die huis gewoon het.

Pappa het vertel dat brandhout baie skaars was en toe koop hy by meneer Tolmie ’n pakkie “Black Wattle”-saad teen ses pennies – van Natal afkomstig. Dit plant hy al langs die rivier. Ek onthou die reuse bome en hoe bome se saad versprei het en vervuil het in die rivier. Oorkant die rivier was ’n bamboesbos en ’n rietbos. Van die bamboes is lere gemaak. Oral op die plaas was swartolienhoutbosse – die wilde olyf. Daarvan is die sporte vir die lere gemaak. Geen gekoopte lere het ons geken nie. 

Van tyd tot tyd het ’n kleurling op die plaas aangestap gekom om die tuie heel te maak. Hy sit dan vir ’n paar dae in die waenhuis met al die stukkende tuie. Die twee stukke leer word dan met ’n spesiale klamp vasgehou en die tou waarmee hy werk, word styf gespan en met pik gesmeer om ’n swart sterk gare te vorm. Dan word die tuig met die gare en twee naalde heelgemaak. Die een naald word bo ingesteek en die ander een van onder af. 

Verder het daar ook soms een gekom wat soldeerwerk doen. Alle stukkende sinkbaddens en kastrolle maak hy heel en ore word aangesit aan Lyles-gouestroopblikke om gerieflike skepbekers te maak.

Daar was geen spuitmasjiene nie en vir die lemoenbome was reuse seile – soos tente – deur die tuiemakers gemaak. Die reuse seile word oor die bome getrek, onder op die grond dig toegemaak en ’n spesiale apparaat se tuit word onder ingesteek. Daarin word ’n koekie gegooi wat sianied bevat, die slinger word gedraai en die giftige gas word onder die boom ingeblaas. Dit moes saans gebeur want die gas het brand aan die bome veroorsaak as die son daarop skyn. Dit was gebruik teen skaal wat op die lemoenbome gevorm het. Elke boer het sy eie gradeerder gehad en self sy lemoene gepak, wat dan per wa na Drew-stasie vervoer is en daarvandaan na die agente in die Kaap wat dit weer na die oorseese mark gestuur het.

Die groot geleentheid in die jaar was oestyd wat maar soms met groot teenspoed en verliese gepaard gegaan het. Na die graan afgesny is met die snymasjien wat vroeër jare deur perde getrek is, was baie gerwe los en moes dan eers vasgebind word voor dit in hope gepak is. Baie hande-arbeid was nodig. Elke gerf word op ’n wa gelaai en na ’n plek geneem waar ’n mied gepak word. Dit is ’n groot kuns om ’n goeie mied te pak wat nie van binne sal nat word as dit reën nie. Dan kom die groot wag vir die dorsmasjien. Jy moes maar jou beurt afgewag het tot die eienaar van die masjien by jou kan uitkom. Soos die masjien vorder, sluit werkloses by die proses aan en moet daar sekuur getel word vir hoeveel jy moet kos voorsien. Voor die tyd word ’n bees geslag. Geen koelkaste het ons geken nie. Die vleis word dan in pekelbalies gepak en elke dag word van die stukke vleis in die groot potte buite gaargemaak. 

Spesiale eetgerei wat na oestyd weggepak word, word van die solder afgehaal en massas kos word elke dag gekook en na die masjien geneem. Dik snye brood en boontjiesop en stampmielies was die aandkos. Elke sak graan wat geweeg en toegewerk is, word sorgvuldig getel want dit bepaal jou inkomste vir die jaar.

Ek wonder wat die moderne boer sou sê as hy sou sien hoe swaar sy voorouers moes werk om hulle geld te verdien. Ons het baie teëspoed, droogte, te veel reën in oestyd en swak pryse geken. Ons het geen koelkaste, vrieskaste, elektriese stowe, wasmasjiene, warmwatertoestelle en elektriese pompe en ligte geken nie.

Later was geringe geriewe slegs in die dorpe beskikbaar wat kragstasies gehad het. Meestal was dit maar elektriese ligte. ’n Groot gerief wat ons later jare geken het, was die tuisgemaakte cooler. ’n Ronde sementvloer word gegooi en slepers wat deur die spoorweë uitgegooi is, word in die rondte op die vloer op hulle koppenente staangemaak – ongeveer een meter uitmekaar. Dit word aan die binnekant met sifdraad uitgevoer en aan die buitekant oorgetrek met die sif. Die spasies tussen die slepers word dan opgevul met uitgebrande steenkool – ook van die spoorweë – op stukkies baksteen. Bo-op word ’n ronde sinkbak gesit. Rondom die bak was ’n rand van ’n paar sentimeter hoog. Gaatjies word in die rondte bokant die bakstene gemaak. Water word in die bak gegooi en drup stadig op die bakstene. As dit goed nat is, word stokkies in die gaatjies gesteek. Heerlik koel om vleis, melk, room en botter in te bêre.

Oom Dirk het baie lemoenboorde gehad wat tot onder die berg gestrek het. Omdat hy baie probleme en skade deur die bobbejane gehad het, het hy besluit om lemmetjieboorde naaste aan die berg te plant. Of die suur lemmetjies die bobbejane afgeskrik het, weet ek nie. 

Ons het ons verwonder aan die gasligte (Gloria Lights) wat oom Koos in sy hele huis aangelê het. ’n Groot luukse en groot gerief.

In Oupa se huis op Swellendam was ’n wit marmerkaggel. Toe Oupa oorlede is, het Lukas Odendaal die huis gekoop, dit gesloop en die kaggel in sy kafee ingebou. Later het die Koöp die kafee oorgeneem en vir ’n winkel gebruik. Ek het in 1969 by die direksie aansoek gedoen om die kaggel te koop. Dis aan my toegesê en ons het dit daar gaan uitbreek en in ons huis in Goree, Robertson gaan inbou waar dit nou nog is. Ek het R50 vir die kaggel betaal. 

Ons geslag het ons geleidelik by die moderne lewe aangepas. Die huidige geslag sal seker verstaan as ons en hulle oor baie dinge verskil. Aanvaar ons maar as julle dink ons is dom as ons nie alles verstaan nie. Ons het ook ons kant in die lewe gebring en die land help opbou.

Ons het sonder geriewe en vermaak grootgeword, maar het mooi herinneringe aan ’n gerieflike en veilige lewe.

Ek hoop die familie sal iets wys raak uit dié vertelling.

Ellie (Joubert) Loubser

Robertson

September 2001

Laat 'n boodskap