| Notes |
- Freek se jongste broer
In Pama/DeVilliers word Gerrit Pieter as die sesde kind van Gerrit Bezuidenhout sr. en Sophia M. Scheepers aangegee. Maar volgens die sterfkennis van die Gert Pieter wat met Lea Barnard getroud was, is hy in 1762 gebore en nie 1754 nie. (Trouens geen Gerrit Pieter wat op 29-4-1854 gedoop sou wees, is in een van die vyf destydse gemeentes gevind nie.) Ons Gerrit Pieter is op 24 Februarie 1837 op Eilandsfontein, Beaufort-Wes, in die ouderdom van vyf en sewentig jaar oorlede, d.w.s. hy is in 1762 gebore. In Oktober 1815 het hy op 'n plaas net onderkant Freck s'n geboer. Hy het dus op 10 Oktober van daardie jaar die skote gehoor toe die pandoers met Freek slaags was. Hy en sy vier seuns het soontoe oorgery en was dus seker die eerste blankes wat op Freek se lyk afgekom het. Hy was teenwoordig op Freek se begrafnis; trouens dit was sy gehuurde onderwyser, Van der Zanden, wat die
begrafnisdiens gelei het. Hy was self nie geesdriftig oor Hans se wraakplanne nie, en wou liewer 'n versoekskrif laat opstel om sy broer se dood te laat ondersoek. Ook hierdie plan het hy laat vaar. Eers op 13 November het hy hom weer met die kwessie ingelaat. Hy het van die provisionele veldkornet Krugel opdrag gekry om die burgers langs die rivier op te kommandeer om teen dagbreek op 14 November by Slagtersnek te wees. Hy het self geen verdere deelname gehad nie, maar deur sy toedoen is 'n hele paar jong manne, ook sy seun, in die ding ingesleep. Daar was geen klagstaat teen hom nie; tog het hy te Uitenhage getuienis gaan aflĂȘ. Na afloop van die gebeure het Stockenström hom na Graaff-Reinet ontbied, en gelas dat hy en sy gesin Graaff-Reinet moes verlaat. HulIe het hulle in Beaufort-Wes gaan vestig en vandaar het van sy nasate na die Transvaal en Vrystaat getrek.
Net een seun van hom, ook Gerrit Pieter, was by die opstandelinge, maar het lig daarvan afgekom. Dit was te danke aan die feit dat hy kort na 5 November 1815 Opperman gewaarsku het dat daar 'n komplot teen hom gesmee word. Dit het die owerhede vroeg al op hul hoede gemaak, en in 'n mate daartoe bygedra dat die opstand in die kiem gesmoor is.
'n Kleinseun van Gerrit Pieter, Frederik Jacobus Bezuidenbout, het hom teen 1849 op die plaas Doornfontein aan die Witwatersrand gaan vestig. Bezuidenhoutsvallei is na hierdie Bezuidenhout vernoem.
|