| Notes |
- Min Afrikanervroue het so ’n groot invloed op die letterkundige, kulturele en maatskaplike lewe van die volk gehad soos Maria Elizabeth Rothmann. Selfs in die tye van verandering in die laat 50’s en 60’s was daar in toenemende mate besef dat haar kuns ’n blywende bydrae tot die Afrikaanse prosa was, en dat sy inderdaad ’n vormende krag in die Afrikaanse letterkunde en die Afrikaner se geesteslewe was. Selfs in haar latere jare het sy die belangstelling getrek van “die literêr bewuste jongere generasie in Suid-Afrika,” – die einste geslag wat met skerp kritiese insig ’n herevaluasie van die “aanvanklik oorskatte werk” van haar tydgenote onderneem het, praat hoofsaaklik met lof van haar sketse en verhale. Literêre geskiedskrywers beskryf M.E.R. as “ons fynste prosakunstenares”, en noem dat sy gedurende haar laaste jare in die Afrikaanse kultuurlewe die plek ingeneem het wat in haar werk aan bejaarde vrouens slegs met uitsonderlike persoonlikhede toegeken is. Sy het geword die enigste oorlewende van ʼn vergange generasie na wie opgesien en na wie met respek geluister word. [1]
- Miemie Rothmann (bekend as M.E.R.; 28 Augustus 1875 – 7 September 1975) was ’n bekroonde Afrikaanse skryfster. Sy is een van die eerste vroue in die land om ’n B.A.-graad te behaal, een van die eerste vroulike Afrikaanse joernaliste, ’n vegter vir vrouestemreg en selfs ’n tyd lank ondervoorsitter van die Kaaplandse Nasionale Party. As skrywer verower sy die Hertzogprys en skryf ook kinder- en jeugverhale. [2]
- In 1931 is sy saam met onder andere Ida Theron behulpsaam met die stigting van die Voortrekkerbeweging en in Maart en April 1933 stel sy op versoek van die Departement van Bosbou ondersoek in na die toestande van die boswerker-gesinne van Knysna en George.
|