Tydskrif vir Letterkunde – 11:3 1973 (RSA) – Freda Linde: Bruintjiesrivier
FREDA LINDE BRUINTJIESRIVIER — TOE EN NOU*
Die plaas Bruintjiesrivier lê sowat elf myl van Bonnievale af, weers- kante van die rivier wat volgens oorlewering na ’n perd heet met die naam van Bruintjie, of Bruintje.
Hier het ek my gelukkige kinderjare deurgebring en later net my vakansies. My ouers is in die Eerste WĂŞreldoorlog getroud en hulle het swaargekry in die twintiger en dertiger jare soos baie ander plaasmense wat deur ekonomiese depressies en soms deur droogtes geteister was.
En tog het die Bruintjiesrivier van destyds ons kinderdae gevul met ’n ryke weelde: die dorsmasjien wat kom, die strooimied, karringmelk, moskonfyt, die vars vrug van die boom af, ook die vars wildevrug soos turksvy, hotnotsvy en suurvytjie. En lekkerny van die ploegland ná die herfsreëns — die vet wit surings wat bo lê as die ploegskaar die klam sooie omkeer. Die aandblom en die koekemakrank, ’n voëlnes met kui- kens of eiertjies, al die honderde verassings van die wilde natuurlewe op die oewer van die rivier.
As ek deesdae ’n rukkie gaan vakansie hou in my ouerhuis wat my pa so lank gelede op die nabankrif naby die rivier gebou het, dink ek soms terug aan die Bruintjiesrivier van ’n ander tyd. Dan sien ek weer die ontsaglike akkerboom wat oor alles die wag gehou het, die pragtig- ste boom wat ek ooit geken het, en miskien die hoogste. Net op die oorkantste rivierwal het hy gestaan, sy wortels in die vogtige kransbed- ding geanker. Somermiddae het ons onder die akkerboom waatlemoen oopgesny, die regte ou bontes met die pikswart pitte en die brosserige rooi kroon. Onder dié akkerboom was ons speelplek. Daar het ek een- dag uit die boom geval met my maag op ’n kissie se rand dat ek amper katswink bly lê het.
Ewewydig met die rivierwal en feitlik in lyn met die akkerboom, het die groot, ronde pitlemoenbome gestaan. Hul takke het laag oor die grond gestrek en ’n koepelvormige skuiling rondom die stam gevorm, net mooi hoog genoeg dat jy nie, solank jy nog klein is, ’n lemoendoring in die kop kry nie. Later weet jy wel om op te pas.
Hoofkwartier vir ’n wintermiddag se feesviering was die twee hoë nartjiebome. As jy met die skoolpaadjie deur die renosterbosveld aan- kom, sien jy hul ligte toppe van ver af in die wind roer, hoog bokant die donkergroen lemoenbome. Dis deel van die pret om hoog in die nartjieboom te klim. Soos ’n vink klou jy vas aan die lang, slap takke terwyl die koel westewind jou hoog bokant die aarde skoppelmaai, en jy pluk die rooiste nartjies wat jy kan bykom; hulle is die soetste.
Bruintjiesrivier in my kinderjare was ’n plaas vol vrugteboorde, met groenteakkers tussenin. My pa se vrugtetuine het gestrek van die rivier- wal af tot by die werfheining van my Oupa en Ouma Linde se strooi- dakhuis. Die paadjie na Oupa en Ouma se huis het onder die akkerboom deur, verby my pa se lemoentuin geloop, en dan deur ’n diep, populier- begroeide sloot, met sy walle toegerank van periwinkle. Die sloot liet sy water gekry uit ’n klofie tussen die koppe, en het halfmaanvormig deur my pa se tuinery geloop en dit in twee verdeel, sodat ons dié deel naaste aan niy Ouma-hulle se huis die „ou-tuin” genoem het. Die sloot met sy walle van populier het dus die „ou-tuin” met die pere en witvye, ge- skei van die lemoentuin op die rivierwal.
Salige dae van oorvloed het met die somervakansie begin. Die eerste ryp appelkosies het dit ingelui. Daarna kom die rooiwang-Alberta- perskes, en die reuse-groot sappige pruime, verleidelik hartvormig met effense spikkels soos vocleiers. Volgende is die persvlesige vye, waarvan jy eet-eet die steel en velletjie aftrek. Nooit kon ons daarin slaag om dié oordadige bome kaal te cet nie. As ons mae styfvol was, en die mand- jie ook vol, dan kon ons ons nog net staan en verkyk aan die matelose kapa- sitcit van die vaalkop-muisvoëls en ’n smullende bediende. Die laaste paar vye eet sy sommer met skil en al; dan sit sy die mandjie op haar kop. By die rivier spring ons van die een krans na die ander — dis nie regtig nodig nie, want op dié tyd van die jaar loop die stroompies baie vlak. Dan stryk ons aan oor die sandlaagte, en met die steil kronkelpaadjic op huis toe, deur die wilde roosmarynbossies.
As die ander vye se tyd verby is, kon ons nog die soet bruinvye eet van bomc wat sommer half verwilderd al langs die slootwal tussen dic populiere groei, en wat ook dic muisvoéls, vinke en glasogies buitenstyd besig gehou het.
Jy leer natuurlik van kleins af om lugtig te wees vir slange. Dis in dubbele maat by my ingeskerp deur ’n rympie wat my moeder my ge- leer het toe ek maar baie jonk was: „Wees bang vir die sonde, my kindjie wees bang. Hy byt en hy steek soos ’n giftige slang”. Veral in die reëntyd het die digte groen periwinkle met sy blou sterblomme soos ’n koninklike kombers oor die slootwal gesprei. (Ons het hicrdie geil onkruid nooit ,maagdebIom’ genoem nie). Geel herfsblare soos honderde skuitjies het op die slootwater gedryf. Somertyd as die sloot droog is kon jy sy hele lengte verken, bodemlangs.
Waar die sloot sy kromming gemaak het, op die onderent van die „ou-tuin” hct ’n strook bos gestaan wat my pa nooit omgeploeg het nic. Hier, tussen die granaatbome en wilde bosgasie het ’n hele aantal graf- stene uit die lang gras gesteek. Die name en jaartalle op dié regop klip- stene was nog duidelik leesbaar en ek kan onthou dat verskeie graftes dié van Steyns was, miskien die meeste. Daar het nie Linde-voorouers begrawe gelê nie. Ons eie oupa-grootjie, Hans Jurgen Linde, het op Jou- bertsdal gewoon tot sy dood, en ons oupa, Pieter Emelius Streicher Lin- de, het van Boesmanspad gekom toe hy die plaas Bruintjiesrivier kom koop het met sewehonderd goue ponde.
Ek het Oupa geken as ’n bejaarde, stil maar oplettende man, met ’n lang, wit baard, dikwels met ’n boek of tydskrif soos Die Kerkbode, of anders in peinsende houding. Ouma met haar bloesende CiIIiers- wange, was die stceds bcdrywige dinamo in daardie huis toe ek ’n kind was. Sy het tien seuns en een dogter grootgemaak, en haar huishouding met geesdrif behartig tot haar sterfdag.
Wat ek nooit sal vergeet nie is die ontsaglike vuurherd wat amper die hele lengte van die een kombuismuur gestrek het, en hoc my ooms daar bo-op, weerskante van die vuur, op ’n wintersaand gesit het. Links agter in die vuurherd was die ysterdeurtjie na die bakoond, nog net soos dit amper tweehonderd jaar tevore was in die tyd van die eerste Hermanus Steyn, vader van Hermanus Steyn, president van die kortston- dige republiek van Swellendam.
13
My ouma het lekker kos op die vuurherd gekook, maar lekkerste vir my was haar gebakte patats, met die skil los maar ongebroke, en net onder die skil die lymerige geelbruin stroop wat die inhoud omhul, en jou mond laat water as jy die patat versigtig oopbreek.
Uit die groot kombuis het ’n gang geloop na die voorhuis, maar eers kry jy die deur na die spens, met die groot koskas net regs soos jy inkom. Uit die koel spenskas kom karringmelk, kwepers, lemoenstroop net wat jy wil hê. (Die patats gaan haal Ouma in die kombuis, langs die stoof waar hulle toegedraai lê in ’n flenniekombersie). Die diep spensvenster het nie ’n skuifraam gehad soos die vensters aan die voor- kant nie maar na buite oopgeslaan en uitgekyk op ’n dadelpalm en ’n skewe moerbeiboom, bron van genot en sonde en vlekke op klere. Dié venster het egter ook van binne houtluike soos die ander vensters gehad. Die spens en voorste vertrekke is gewoonlik donker gemaak smiddae tot koffiedrinktyd. In die groot voohuis met sy familietafel waarby sestien mense kon aansit, en sy stinkhoutstoele, het die portrette van my oor-grootouers gehang, twee groot portrette swaar omraam, aan die muur teenoor die venster. Links, soos jy uit die gang in die voorhuis inkom, het ’n deur gelei na Oupa en Ouma se kamer en vandaar ’n deur na die agterste kamertjie, met sy venstertjie in die oostelike gewel, onder die solderleer. Hier het ek baie keer geslaap as ek met vakansie op die plaas gekuier het.
Mense praat dikwels van skatte wat op ou solders onder die stof lê. Op my Oupa se solder het ek op ’n dag afgekom op ’n skat wat vir my baie werd was. (Ek moes toe in st. VII of VIII gewees het, en was met va- kansie van kosskool af). Ek kon dit maklik misgekyk het, so verbleik en gevlek was dit al van buite. Dit was „English Prose chosen and arranged by W. Peacock” met my oom Abraham se naam en „Swellendam 1913” voorin, en „Selected English Essays”, ook saamgestel deur W. Peacock, met my oom Johannes se naam en „Gymnasium Paarl” voorin (sonder datum maar gedruk in 1918). Dit was my ooms se voorgeskrewe boeke!
Ek het in st. VII en VIII al meer as 150 „gedigtc” geskryf, en nou op ’n beïnvloedbare ouderdom, was my smaak meteens vir die essay geprik- kel, deur Charles Lamb, Hazlitt, Bacon en andcr. Ek hoop ek het vir Óupa gevra of ek die twee boekies mag kry; maar ek besit hulle vandag nog („gevrywaar teen die mot”).
Toe Oupa in Desember 1935 oorlede is, het my oom Pieter nog ’n paar jaar in die ou huis aangebly. Destyds het die huis reeds die twee voor- deure gehad, maar dit was nie in my vroeë kinderjare so nie. Die ekstra buitedeur is ingesit toe dic huis verdeel is, en die regte voordeur is die een heel links, die hoogste deur. Dit was ’n dubbele deur met ’n breë bolig en het direk oopgegaan in die oorspronklike sitkamer in — ’n deftige vertrek, met ’n venster na die agterkant wat uitgekyk het op die eeue-oue „bella sombra”-bome, waarvan die wortels soos bergies oor die grond gekrul het. Die Victoriaanse meubcls, insluitend die sofa, van hierdie sitkamer is vandag nog in ’n so te sê onverbeterlike toestand in die sitkamer van Ouma se enigste dogtcr, mev. Anna Knoblauch, van Rivier- sonderend.
14
Uit die sitkamer het ’n deur na die gastekamer of „vrykamer” gelei. Die oorspronklike huis was suiwer T-vormig, voordat die platdak-buite- kamer aangebou is. Dié buitekamer was reeds daar toe my ooms klein was, volgens ek kan vasstel, maar dis nietemin duidelik dat dit wel ’n aanbou- sel is — van óf voor of nadat my oupa die plek gekoop het.
Toe ek ’n kind was, was daar ’n lang enkelverdiepinggebou, ook met ‘n strooidak, aan die bo-ent van die ou tuin, wat as stalle en stoorplek ge- bruik is. Dis in hierdie gebou waar vroeĂ«r jare die eerste skoolklaskamer van die kontrei was. Later het my Oupa Linde en my Oupa Joubert en hul tydgenoot Paul Steyn, saamgespan om ’n skool op Middelrivier te bou. DiĂ© skool is later deur die staat oorgeneem. Die hele omgewing se kinders het daar by Middelrivier skoolgegaan, later ook my broers en ek, en die- selfde Middelrivierse skool is vandag nog ’n florerende plaasskool met ge- woonlik sowat 30 leerlinge.
Aan die begin van die veertiger jare was ons genoodsaak om ons tuin- grond aan die oorkant van die rivier te verkoop, en toe ek eendag — om- streeks 1942-43 — plaas toe kom met vakansie, lê die groot akkerboom gevel. „Trots van drie geslagte, in ’n oogwink afgemaai”.
Dit was die voorspel tot wat ’n mens eufemisties vooruitgang kan noem, in elk geval, die voorspel tot die groot veranderings van die volgen- de paar dekades. ’n Nuwe tyd met ’n nuwe benadering en ander waardes het aangebreek. Nie een vrugteboom het bly staan nie. In die „ou-tuin” het die peerbome en ander vrugtebome en die ry witvye verdwyn. Aan die ri- vieroewer is die nawellemoene en pitlemoenbome uitgekap en ook die twee nartjiebome. Elke vyeboom, elke perskeboom, appelboom, suurappels en soetappels en die appelkoosboord, alles wat van die plek aan die oorkant van die rivier ’n kinderparadys gemaak het, het verdwyn. Vandag is daar nie eens meer iets soos ’n kweperheining nie cn ’n emmer turksvye het ek laas in my jeugjare gesien. Perde het so te sê verdwyn as lasdiere — én as liefhebbery. Daar is vcrskeie plaashuise wat leeg staan.
’n Deel van my oupa se huis is steeds oor die jare bewoon en die grond is bewerk. Later het my oom Jan (in sy fleur ’n liefhebber van perde cn jakkalshonde) die plaas gekoop en in sy laaste jare ’n deel van die op- stal bewoon tot sy dood in 1965. Daarna sou hierdie ou woning van Her- manus Steyn, voorouer van president Paul Kruger, niemand meer huisves nie. Teen Junie 1968 was dit gesloop en ook die stal en waenhuis. Dit was toe 225 jaar oud. (Dit dateer van 1743 toe Hermanus Steyn die Oue daar kom woon het en Bruintjiesrivier nog ’n leenplaas was in die tyd van die Hollandse Oos-lndiese Kompanjie).
Die half toegevalde sloot se loop is nou verander, reguit gemaak, maar hy wys met ’n logiese onreëlmatigheid nog waar sy kromming was. Hy kry deesdae net die afloopwatertjies van ’n dam wat hoër op nou die kloofwater opvang, maar sy omboorsel van periwinkle blom plck-plek nog nct so blou.
En in die plat groen koolland wat nou oor alles heen tot aan die rivier strek, sien jy ’n donkerder kol in die groen — waar stinkblaar en kiesieblaar hulle nie laat keer nie — dis die plek waar die historiese graftes drie-en- twintig jaar gelede toegeploeg is.
15
Ons huis staan nog tussen die bloekonis, nou heelwat digter en hoër bome, maar die tradisionele Bruintjiesrivier bestaan nie meer nie. Tog — die goeie grond hou goed. Dit lewer nog die heerlikste patats en dieselfde bont waatlemoene, en as die reën op die regte tyd val, ’n goeie koringoes.
1972 .
* Die Tienie Holloway-medaljc vir Kleuterlektuur, 1973, is deur die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken aan Freda Linde vir haar kleuterverhaal Jos en die Bok. Haar kinder- en kleuterboeke (o.a. Snoct-AHeen, Dakkuiken, Ken jy d-ie Kierangbos, Jos en die Sog, Jos en die Bok, Jos cn Ktos) stam kennelik uit die plaaswĂŞreld waarin sy haar eie kindertyd deurgebring het. Daarom het die redaksie dit goedgedink om by die geleentheid van die bekroning van haar kleu- terlektuur, hierdie biografiese opstel te plaas.
Bronne:
https://archive.org/details/tydskrifvirlette00uns_tx2/page/12/mode/2up
https://archive.org/stream/tydskrifvirlette00uns_tx2/tydskrifvirlette00uns_tx2_djvu.txt