Fotos: Motors

Fotos: Motors - Oupa Cor

Oupa Cor en Ouma Miemie het naweke met die Volkswagen vir die kinders gaan kuier.
Ons het hulle nie altyd verwag nie, maar het geweet as hulle naby was want Volkswagen se remme het die gewoonte gehad om te skree wanneer Oupa rem, soos hulle ook gedoen het wanneer hy by die hoek van die straat gerem het om by ons straat in te draai.

Oupa Cor het ook goedhartiglik die Volkswagen vir Paul geleen om hom en sy metgesel na hulle Matriekafskeid te vervoer.

Fotos: Elsie Joubert – Koekversierings

Een van Elsie se tydverdrywe en stokperdjies was koekversiering en as gevolg was sy later vir verskeie familielede se troukoeke, en ook ander funksies se koeke verantwoordelik.
Dit was ‘n baie tydrowende proses wat baie konsentrasie en geduld geverg het om die delikate en fyn versiersuiker blaartjies, blomme en honderde patroontjies te maak en aan te bring.
Ons as kinders onthou die vervoer van die koeke spesifiek baie goed want as gevolg van die delikate aard van die fyn versierings en die belangrikheid van die gebeurtenis, was daar baie angstigheid en moes die koeke soos goud behandel word. Die vervoer van die koeke na, en van  die motor en die onthaal areas was dus spanningsvol en ons kon almal eers ontspan wanneer die koeke hul belangrike plekke veilig en in een stuk ingeneem het.

Elsie Joubert - Koekversierings

Persoon: DU PLESSIS Elsie Aletta Cecilia

Elsie is gebore op 26 Junie 1935 en sy vertel soos volg:

“Volgens wat ek van my ma verneem het, het ons daardie tyd op Clova*, ‘n klein treinhalte in die Drakensberge gewoon.  My pa het aan die spoorlyn by van Reenenspas gewerk en het ons daar in ‘n spoorweghuis gewoon. Vir my geboorte is  hulle Sandspruit toe, dit is ongeveer 10 km vanaf Volksrust, en was tuis by tannie mien DELPORT, ‘n suster van my pa. Dit was glo ‘n yskoue wintersdag en die vroedvrou het my pa gevra om ‘n paraffienstofie te gaan leen anders sou my ma en ek verkluim. Toe ek twaalfuur die middag gebore is het die ryp glo nog spierwit gelê. Geen wonder ek is so koulik nie!!

Terwyl ons op Clova gewoon het, het my ma glo melk vir ‘n tiekie (2.5c) of ‘n sikspens (5c)  by ‘n swart vrou gekoop wat ‘n paar koeie aangehou het. Ek weet nie hoe lank ons daar gebly het nie, maar volgens my ma was my ouer broer, Willie, destyds ‘n siek kind wat asma-aanvalle gekry het en ek ‘n baie soet dogtertjie. Sy het my glo in ‘n paraffienkissie met kussings gestut en het ek my glo so in my spel verlustig dat sy my menigmaal daar aan die slaap gekry. Toe ek begin loop het sy ‘n swart meisie, Lizzie, gehuur om my op te pas.

My ma het vertel van die swaar tye wat hulle deurgemaak het want dit was glo depressiejare toe hulle getroud is en gedurende my en Willie se kleuterdae. Werk was skaars en die werkers het maar karige salarisse gekry Sy was ook nog maar jonk, slegs 17 jaar toe sy getroud is en op twintigjarige leeftyd toe ek gebore is was Willie maar eenjaar en drie maande oud.”

Bron: Elsie en Loutjie Joubert Snr.

* Clova (Clova) is a railroad siding (class S – Spot Feature) in KwaZulu-Natal, South Africa (Africa)
Clova is also known as Clova, Clove.
A Railroad siding is a short track parallel to and joining the main track.

Fotos - DU PLESSIS Elsie Aletta Cecilia
Clova (Van Reenen)

 

1 2 3