BIOGRAFIE: Familie DU PLESSIS

Proloog
 
Ons weet ‘n “familie”is ‘n gesin, ‘n huisgesin, ouers en kinders in die eerste plek, asook die vernaamste: Pa, ma en kind(ers) uit die huwelik gebore,of soms op ander maniere bekom, dus bloedverwante met dieselfde van en biologies verwant of  familiebetrekkinge. Hierby ingesluit is uiteraard die ouers, grootouers, voorouers, afstammelinge of nakomelinge.
“Stam” is geslag en “afstam” is afkomstig uit ‘n geslag. Ons voorsate is ons voorouers ( voorgeslagte) of mense van wie ons afstam (afstammelinge) en dus ook bloedverwante is, diegene wie se “gene” ons oorgeĂ«rf het deur generasie. Teenoor bloedfamilie staan aangetroude-, asook stief- wat familie geword het deur die huwelik en wat, alhoewel nie biologies nie, tog ook familie is!’n Stamboek is ‘n geslagsregister met die name van al die afstammelinge.
Dit is vir ons as familielede wat nog in lewe is beskore om met aangename herinneringe, maar ook met nederigheid en innige erkentlikheid as bevoorregtes die nodige hulde te betoon aan geliefdes wat ons vooruitgegaan het. “n Handvol vergeet-my-nietjies en herinneringe aan elkeen wat ‘n dierbare moes afgee en deur diep waters van beproewing gegaan het.Dit is met deernis in ons harte teenoor hulle wat in ons gedagtes sal bly voortleef totdat ons weer in die hiernamaals verenig mag wees.
Paul Kruger het gesĂȘ: “Haal uit die verlede dit wat mooi is en bou die toekoms daarop.” Ons berus dus in die onvermydelike, in Gods wil, aanvaar die beproewinge en onthou dit wat mooi was as heuglike belewenis en herinneringe wat ons sal bybly en ons lewens daardeur slegs kan verryk. Ons delf dus terug in die annale en oorlewerings, na die lewensdae van hulle wat bygedra het tot die familiegeskiedenis van die du Plessis-familie:

Die Stamboom:                      
Willem Schalk du Plessis het saam met sy vrou Barbara (nee Meintjies ) op ‘n plaas naby Figtree, tussen Bulawayo en die Botswana-grens, in RhodesiĂ« (tans ZambiĂ« ), geboer. Hulle het vier seuns gehad: Johannes, Barry, Willie en Corneels, asook ses dogters: Maria (NortjĂ©),  Mien (Delport), Kleina (Viljoen), Lenie (Booysen), Barbara (Comsy) en Alie (de Haast).
Corneels, Cornelius Johannes du Plessis (geb 6 September 1908) tree in die huwelik met Miemie, Maria, Elizabeth, Francina Leonard (geb7 Augustus 1915).

 Jan Daniël Leonard (geb13-04-1891 en Elsie Aletta Cecilia Griezel (geb 06-03-1895), jongste dogter van Gerrie, Gerhardus Griezel en Maria, Elizabeth, Francina, Swanepoel. Oupa Jan en ouma Ellie het net twee dogters gehad: Miemie, getroud met Corneels du Plessis en Sannetjie wat met Fred Sandow in die huwelik getree het.
Ouma Ellie het ‘n ouer suster, Poppie, gehad wie met Willem Labuschagne getroud is en twee seuns, Kosie en Gert (Lappies), gehad.
Corneels du Plessis se pa, Willem Schalk du Plessis en sy gesin, het van Zimbabwe na ‘n plaas op Sandspruit in Transvaal (Mpumalanga) getrek. Corneels is op Klaarstroom,
langs Vaalkop by Zeerust, gebore.              
Willie, oudste seun van Corneels, het sy name van sy oupa, Willem Schalk du Plessis, geërf. Elsie, die enigste dogter, het haar ouma Ellie se name, Elsie Aletta Cecilia, gekry. Jan het sy name gekry van sy ma se pa,Jan Daniël Leonard, wat op die familieplaas, Dassieklip, by Sandspruit, geboer het. Cor het sy pa, Cornelius Johannes, se name gekry en Eddie sy grootoupa, Eduard Johannes (Leonard), se name.                                                  
Die du Plessis’s is dus daar van Robert Mugabe se wĂȘreld, toe nog RhodesiĂ«. My skoonpa het my ‘n paar keer vertel van die nagmerrie-ervaring wat hy, as jong seun, met ‘n toordokter  gehad het wat hom in die veld “gejag” het vir van  sy “onderdele,”waarvan hy “muti”wou maak. Hy het hierdie gebeurtenis so meegevoer vertel dat jy die toordokter in jou geestesoog kon sien hoe hy op en af in die lang gras spring om te sien waar sy “prooi” is. Die verhaaltjie, soos ek dit kan onthou:
“My pa en oudste broer moes daardie dag met die perdekar dorptoe gaan en my pa het my voor hulle vertrek gemaan om nie te ver van die huis af te dwaal nie en op my pasoppens te wees vir die toordokter. Soos ‘n kind maar is steur jy jou mos maar min aan waarskuwings en maak dit af as bangmaak praatjies en soms vergeet jy net daarvan. Hoe dit ookal sy, ek en van die swart kinders het later by die rivier gaan speel en onder andere klei uitgehaal waarmee ons klei-osse gemaak het asook kleilat gegooi het. Ons was so geĂŻntereseerd en verdiep in ons spel dat die tyd behoorlik stil gestaan het en ons allermins aan toordokters of enigiets anders gedink het. Dit was eers toe een van die swart kinders alarm gemaak het dat ek van my pa se waarskuwing onthou het en ook die gevaar in die vorm van ‘n gebukkende toordokter wat besig was om ons stilletjies te bekruip. Onnodig om te sĂȘ ek het eers yskoud geword en toe soos ‘n pyl uit ‘n boog wegespring en rieme neergelĂȘ agter die ander aan op pad huistoe. Tot my verdere ontsteltenis sien ek hoe hy besig is om my van die swart kinders af te keer. Ek het in die lang gras probeer om vir hom weg te kruip en het gesien hoe hy spring-spring in die gras beweeg soos hy na my soek terwyl hy die skildvel en assegaai bokant sy kop rondswaai. Ek het, toe hy al nader aan my kom, koers gevat na die klipkoppie om hom daar te probeer ontkom. Die plaaspad het met ‘n draai om die koppie geloop en ek het met dĂ­e langs gehol om die koppie van die anderkant af te beklim en agter die klippe weg te kruip. Die toordoker het my plan agtergekom en my ook daarvan probeer afsny. Wat was my verligting groot toe ek die perdekar om die draai sien aankom! Ek het uitasem by my pa en broer op die perdekar gespring en vir hulle van die nagmerrie vertel .Die toordokter het intussen in die lang grasse verdwyn en was daar geen teken van hom nie. Dis asof ek nog koue rillings kry as ek daaraan dink hoe naby ek aan my dood was.”

Dit was later toe hulle Transvaal toe getrek het dat hy met “Miemie” deurmekaar geraak het. Sy was blykbaar ‘n rabbedoe wat sy voete skoon onder hom uitgeslaan het en sy hart verower het. Sy was ‘n bobaas perderuiter en het menige jongman in die stof laat byt as dit by resies gekom het. Hulle twee is op 9 Desember 1932 op Piet Retief getroud waar hulle by Miemie se ouers gebly het. Corneels het elke Sondagmiddag per fiets Pongola toegery waar hy gewerk het en die Vrydagmiddag weer terug huistoe. Hulle eersteling, Willie, is hier op Piet Retief gebore. Hulle het later Clova toe getrek waar hulle in ‘n spoorweghuis gebly het en waar hulle tweede kind en enigste dogter, Elsie, gebore is. Hiervandaan is hulle Volksrust toe waar Jan, Cor en Eddie gebore is.
Sandspruit, Charlestown, maar veral Volksrust was die bakermat van die familie en wat aan die begin van die vyftiger jare na Germiston toe verskuif het.
Volksrust,‘n skilderagtige en geskiedkundige plattelandse dorpie aan die voet van die historiese berg, Amajuba, wat beteken ” Berg van duiwe”, is een van die koudste plekke in ons land. En hier is ons getoĂ«, het ons vir die eerste keer met ‘n skool kennis gemaak en baie lief en leed deurgemaak. Eintlik meer “lief”as leed, trouens al leed wat ons daar beleef het was die gure weersomstandighede: die “Augustus”-winde wat die gruisklippertjies teen ons kaal bene ‘geskiet”het wanneer ons in die middae van die skool af huistoe geloop het asook die ysige wintermaande wanneer die waterdruppels glaserige stalaktiete en stalagmiete gevorm het, die ryp tot laat in die oggende gelĂȘ het en wanneer die wind daaroor waai jou laat klappertand het. Hier het ons menigmaal tot by ons knieĂ« in die kapok skooltoe geloop om maar net terug huistoe gestuur te word omdat daar te min kinders en onnies by die skool opgedaag het weens die onbegaanbaarheid van die paaie. Ons het sneeumanne gemaak, geski en mekaar met sneeuballe bestook, maar moes kort-kort eers ons by die koolstoof gaan warm maak het.
Om in die koue bed te klim was geensins aangenaam nie en daarom moes dit ook eers warm gemaak word. Daarvoor het ons bakstene in die koolstoof se oond warm gemaak, dit met koerantpapier en lappe toegedraai en dan by die voetenent van die bed onder die komberse geplaas.
Willie is op 23 Maart 1934 in Piet Retief gebore, Elsie 26 Junie 1935 op Sandspruit,wyl die ryp spierwit gelĂȘ het en Jan, Cor asook Eddie in Volksrust. 

Ek het vir die eerste keer met die du Plessis-familie as negejarige seun op Volksrust kennis gemaak toe hulle ons bure geword het. Dit was tydens ‘n kuier-sessie toe ons “trou” gespeel het en ek, die dominee, vir Willie en my sussie, Bertie, in die huwelik bevestig het, waarna hy weer die predikant was en  vir my en sy sussie,Elsie, ge”trou” het. Dit was dan ook hier waar ek gevoel het ek voel iets vir haar en hierdie gevoel het ek bly voel totdat ek en sy vir die tweede keer, maar toe wettiglik, in die eg verbind is en die gevoel nog steeds gevoel word! Ek het vanaf daardie eerste ontmoeting kontak bly behou deur soms by Willie te gaan speel en het ons vriendskap bly voortduur. Ons het nooit kon droom dat hy eendag nog my strooijonker en swaer, dus ook familie en vir die tweede keer met my trouery gemoeid sou wees.

Ons het ons kinderjare op Volksrust saam deurloop totdat ek  Heidelberg Onderwyskollege toe is en hulle Germiston toe getrek het. Ek het egter nog steeds kontak behou en sommige naweke daar gaan kuier. In my finale jaar het ek en my kamermaat, Louis Bekker, vir drie weke by hulle loseer, terwyl ons by Delvilleskool met Proefonderwys was en hulle nie ver van die skool in Presidentstraat gebly het. Selfs gedurende die ses jaar wat ek as onderwyser by Nigel A.M. Skool werksaam was het ek volhard met my besoeke wat al hoe intenser geraak het, sodanig dat ek en Elsie op 31 Desember 1957 verloof geraak het en op 6 Desember 1958 getroud is.Van toe af het die familiebande hegter geword, die familie begin om te vermeerder en was ek dus die eerste toevoeging waarna Heleen, Yvonne, Anita,Therina , die kinders en kleinkinders gevolg het.

Willie is op 17 Desember 1960 met Heleen, ‘n suster in Germiston hospitaal waar sy destyds in die kraamafdeling werksaam was, getroud. Die huwelikseremonie is in die kiosk by Germistonmeer gehou en die uwe was die seremoniemeester (die heel eerste keer).

Loutjie Joubert Snr

Terugblik – Joubertsdal deur Ellie Loubser (Nee. Joubert)

(Met innige dank verskaf deur Hans Linde – Lindebond)

Joubertsdal

As kind het ek baie saam met my pa, Frikkie (Grote) Joubert rondgeloop. Die inligting waaroor ek beskik het hy maar so mettertyd vir my vertel. Sy oupa was Gideon Francois Joubert en sy ouma Elsje Sophia van Eeden.

Oupa Gideon is baie jonk oorlede terwyl sy vrou hulle vierde kind, ons oupa Jacobus Petrus Willem verwag het. Omdat Oupa (Jacobus Petrus Willem) sonder ’n pa grootgeword het, is min van hom bekend.

Oupa se ma (Elsje Sophia) is later weer getroud met ’n Steyn (Johannes Franciscus), natuurlik in gemeenskap van goedere. Hy staan borg vir sy broer met haar geld, diĂ© gaan bankrot en Ouma verloor toe haar grond. Hy is oorlede en Ouma bly agter, arm en met vier klein seuntjies. Sy het toe geen heenkome nie. Sy stap met haar kinders en gaan woon ĂȘrens langs die BreĂ«rivier, waar Bruintjiesrivier in BreĂ«rivier inloop, in ’n klein huisie. Waarvan hulle geleef het, is onbekend. Soos haar seuns mondig geword het, het die Barry-broers, bekende prokureurs op Swellendam, hulle geld by die weesheer gekry, natuurlik teen ’n groot kommissie. Toe Oupa (Jacobus Petrus Willem), die jongste, se beurt kom, besluit hy om ’n perd, esel en kar te leen en sy geld self in die Kaap te gaan haal. Hy was verbaas hoeveel geld hy meer as sy broers gekry het, natuurlik sonder die Barry’s se kommissie.

Oupa is later getroud met ons ouma, Elsje Maria Dedrika Linde en hulle het saam met sy ma in Bruintjiesrivier gaan woon. Sy ma (Elsje Sophia) was nooit van Oupa geskei nie en sy het tot haar dood toe by hom gebly. Oupa besluit toe om sy pa (Gideon Francois) se grond terug te koop. Ondertussen het die plaas verskeie eienaars gehad, want almal het daar bankrot gegaan en die huis en die plaas was in ’n verwaarloosde toestand. Ouma se ma (Elsje Sophia) het onthou hoe sy op die huis se fondamente gespeel het toe haar pa, ene Van Eeden (Frederik Jacobus), die huis gebou het. Ons het die datum op 1793 uitgewerk. 

Die steenoonde is ook later oopgeploeg. Oupa vernoem toe die plaas, wat as Bruintjiesrivier bekend was, na Joubertsdal. Die rivier het sy oorsprong op Joubertsdal gehad, die deel waar oom Dirk gewoon het. Hy het sy plaas Waterval genoem, na die mooi waterval wat die oorsprong van die rivier is. Die baken staan vandag nog op die hoë bergspits voor die huis.

Die oorspronklike huis op die plaas was naby die ou stoor en is in 1922 afgebreek. Ek onthou die murasie en wie almal daar gewoon het, sal ek graag wil weet. Oral op die plaas het mense gewoon wat nie grond gehad het nie, vandaar al die murasies. Hulle het tuin gemaak en verskeie vrugtebome het ons dus op onmoontlike plekke aangetref. Pappa se suster, Aunt Sophie en haar man het, nadat hulle getroud is, tydelik in die ou huis gewoon. In daardie huis was ook ’n donker vertrekkie waarin die slawe wat verbrou het, opgesluit was. Die deur van diĂ« vertrek is later in oom Hans se spens ingebou op Bakovenshoogte. Laasgenoemde was nie deel van Joubertsdal nie en is aangekoop deur ons oupa. Sy drie seuns op Joubertsdal se plase was ongeveer 550 morge groot. Nog ’n deel van die plaas het na sy dogter Sophie gegaan.

Oom Koos se huis se boukoste was ses honderd pond en oom Dirk s’n ’n duisend pond. Pappa moes later meer vir sy grond betaal, omdat hy die opstal en die buitegeboue gekry het.

Water was maar altyd ’n kwessie, want geen behoorlike voorsiening is vir opgaargeriewe gemaak nie. VroeĂ«r jare moes al die water vir huisgebruik met emmers uit die rivier aangedra word. In 1933, die depressiejare, het die regering ’n dambouprojek begin om werk vir die armblankes te skep. Met graaf en pik teen vyf sjielings per dag en die voorman teen sewe sjielings per dag het hulle die damme op die plaas gemaak. Geen masjiene was beskikbaar nie. ’n Tydrowende harde werk wat maande geneem het om ’n behoorlike dam te maak. 

Om Joubertsdal te bekom, moes oupa Koos togte Vrystaat toe ry om geld te verdien. Met sy ossewa het die togte drie maande geneem. Ouma was ’n vrou met ’n sterk persoonlikheid en moes dan alleen agterbly en na die boerdery omsien. So is die plaas stuksgewys teruggekoop. 

As gevolg van die stadige en ongerieflike verkeer en gebrek aan oornagplekke het talle mense snags op Joubertsdal kom huisvesting soek. Pappa onthou hoe hy as kind baie oggende op ’n baadjie op die vloer wakker geword het. In die nag is al sy beddegoed vir die moeĂ« reisigers gebruik.

Motors was slegs vir ver afstande gebruik en almal wat nie na Middelrivierskool toe kon stap nie, het per perdekar (trap) gery. Die paaie was veilig en niemand is ooit aangerand en vermoor nie.

Ek onthou hoe die vliegtuie se roete vanaf Kaapstad na Port Elizabeth al langs die Langeberg was en hoe ons ons verwonder het oor die vliegtuie wat oor ons koppe gevlieg het. 

Op Joubertsdal was luiperds (ons het gepraat van tiere) ’n groot gevaar. Verskeie skape is in die bergveld doodgebyt tot groot verliese vir die boere. Oom Hans op Bakovenshoogte was vindingryk en het ’n baie doeltreffende vanghok gemaak en verskeie luiperds gevang. 

Pappa onthou dat in sy kinderjare ’n boerekommando na die een of ander oorlog op pad was en Ouma het vir hulle ontbyt gegee. Na die oorlog het die kommandant uit dankbaarheid vir ouma Ellie ’n geelhout-spenskas present gegee. Dit het in Joubertsdal se spens gebly tot 1961 toe Pappa die plaas verkoop het. Hy het dit toe aan die museum op Swellendam geskenk.

Die ou stoor op die plaas was eers ’n woonhuis met baie pakkamers. Die een vertrek, sonder venster en met ’n grondvloer, was die skoolkamer. Oupa het van tyd tot tyd iemand gehuur om die kinders te leer. As die onderwyser dros, was die kinders soms lank sonder skool en het intussen alles verleer. So onbevredigend was dit dat Oupa en van die ander boere besluit het om die skool in Middelrivier te laat bou. Elkeen het maar iets bygedra en so was Pappa-hulle die eerste leerlinge van die nuwe skool. Later was daar tot drie personeellede.

Onder die ou stoor was ’n groot turksvyboord wat ’n groot aantrekkingskrag vir baie gehad het. Na die cochinele dit getakel het, het dit tot niet gegaan. Verskeie mure en krale wat van klei gemaak is, was op die plaas. Dit was oorblyfsels van vorige bewoners.

Oupa Koos was in ’n stadium parlementslid vir Swellendam. Hy het niks daarvan gehou nie, want hy kon nie die geflankeerdery van die mans met die ander se vrouens verdra nie. Hy was ’n streng godsdienstige mens. Dit was ook in diĂ© tyd toe Cecil John Rhodes en Merriman in die parlement was. Pappa het vertel dat hy hulle dikwels gesien het. Ek wonder hoeveel die boere van die Engelse toesprake verstaan het.

Aangesien geld so skaars was, moes Pappa, so groot, en oom Dirk, so klein, saam hulle beste klere dra. Pappa se voete is met vet gesmeer om in die klein skoene te kom, maar sonder sukses. Ouma sĂȘ maar net die skoene is nog gaaf en goed. Waar het die moue en broekspype nie gesit nie?

Oupa het in 1918, toe Pappa en Mamma getroud is, Swellendam toe getrek. Sy huis was waar die Koöp se geboue vandag staan. Ouma is in 1923 oorlede en Oupa op 91-jarige leeftyd in 1935. Toe hy die plaas aan die seuns verkoop het, het hy gesĂȘ hulle moet dit geniet. Daarom vra hy vir hulle dieselfde prys as wat hy daarvoor betaal het. Hy het gesĂȘ hy kon dit nooit geniet nie, want hy het te swaar gekry.

Volgens vandag se standaarde het ons primitief geleef. Ons het geen moderne geriewe geken nie. Elektrisiteit was nie beskikbaar nie, telefone het later jare gekom en motors ook maar later. Pappa het sy eerste motor, ’n Studebaker Semi Sedan, teen 395 pond in 1926 gekoop en die broers hulle s’n later. Niemand was goeie bestuurders nie omdat hulle so laat in hulle lewe motors bekom het en was redelik gevaarlik op die pad. Oral was grondpaaie en almal het met perdekarre oor die weg gekom. ’n Kapkar met twee mooi perde was gesog. Na Pappa se eerste trekker, die derde in Swellendam se distrik, het die mense gestroom om die wonderwerk te beskou. Ons drie susters het diĂ© Saterdag ons pennie se sakgeld verbeur vir diĂ© groot aankoop!

Alle vervoer van goedere het met eselwaens en die trein geskied. Gedurende die depressiejare in 1933 het landbouprodukte geen prys behaal nie as gevolg van die armblankevraagstuk. In 1939 tot 1945 het die oorlog uitgebreek en dit was ’n verdere terugslag. Min was beskikbaar soos byvoorbeeld seep, meelblom, suiker, breekware en klerasie was baie moeilik bekombaar. Boonop is petrol gerantsoeneer. Vir 200 myl se petrol per maand moes koepons by die magistraatskantoor gekry word. Sonder koepons kon jy nĂȘrens petrol kry nie. Weer word perdekarre gebruik. Op Joubertsdal is met graan, lemoene en skape geboer.

Oupa JPW Joubert is in 1844 gebore en sy drie broers was Gideon, wat in Barrydale gaan woon het, Jan in die Vrystaat en Frikkie in Montagu. Oupa se kinders was die volgende:

  1. Ellen is getroud met Ben Viljoen van Robertson, maar vertrek Vrystaat toe.
  2. Gideon is getroud met Rosa van Eeden – Middelrivier.
  3. Koos is getroud met Cora van Eeden – Middelrivier.
  4. Barbara is getroud met Pieter van Eeden – Nooitgedacht.
  5. Miemie is getroud met Fanie Kriel – Montagu.
  6. Hans is getroud met Elizabeth Steyn – Leeurivier.
  7. Dirk is getroud met Daisy Bosman – Wellington.
  8. Frikkie is getroud met Bettie Badenhorst – Swellendam.

Oupa Koos was ’n merkwaardige persoon. As in aanmerking geneem word met watter agterstand hy begin het en wat hy vermag het, is hy te bewonder. Hy was ’n vredeliewende en baie hoflike man. Hy het altyd ander as u aangespreek. Ongelukkig was sy verstand as gevolg van verkalkte are al baie swak toe ek hom in sy hoĂ« ouderdom leer ken het. Hy was jare in die kerkraad en daar is mooi foto’s in die konsistorie op Swellendam van hom as kerkraadslid. Hy was ’n oupa op wie ’n mens kon trots wees en dis ’n voorreg om ’n afstammeling van hom te wees.

Pappa het Joubertsdal in 1961 aan oom Attie van Eeden verkoop. Daarna is dit weer verkoop en nou behoort dit aan Duitsers wat direk uit Duitsland gekom het. In 1993 het hulle die huis se 200-jarige bestaan gevier en ek en my susters is ook genooi, omdat ons die laaste Jouberts was wat in die huis gewoon het.

Pappa het vertel dat brandhout baie skaars was en toe koop hy by meneer Tolmie ’n pakkie “Black Wattle”-saad teen ses pennies – van Natal afkomstig. Dit plant hy al langs die rivier. Ek onthou die reuse bome en hoe bome se saad versprei het en vervuil het in die rivier. Oorkant die rivier was ’n bamboesbos en ’n rietbos. Van die bamboes is lere gemaak. Oral op die plaas was swartolienhoutbosse – die wilde olyf. Daarvan is die sporte vir die lere gemaak. Geen gekoopte lere het ons geken nie. 

Van tyd tot tyd het ’n kleurling op die plaas aangestap gekom om die tuie heel te maak. Hy sit dan vir ’n paar dae in die waenhuis met al die stukkende tuie. Die twee stukke leer word dan met ’n spesiale klamp vasgehou en die tou waarmee hy werk, word styf gespan en met pik gesmeer om ’n swart sterk gare te vorm. Dan word die tuig met die gare en twee naalde heelgemaak. Die een naald word bo ingesteek en die ander een van onder af. 

Verder het daar ook soms een gekom wat soldeerwerk doen. Alle stukkende sinkbaddens en kastrolle maak hy heel en ore word aangesit aan Lyles-gouestroopblikke om gerieflike skepbekers te maak.

Daar was geen spuitmasjiene nie en vir die lemoenbome was reuse seile – soos tente – deur die tuiemakers gemaak. Die reuse seile word oor die bome getrek, onder op die grond dig toegemaak en ’n spesiale apparaat se tuit word onder ingesteek. Daarin word ’n koekie gegooi wat sianied bevat, die slinger word gedraai en die giftige gas word onder die boom ingeblaas. Dit moes saans gebeur want die gas het brand aan die bome veroorsaak as die son daarop skyn. Dit was gebruik teen skaal wat op die lemoenbome gevorm het. Elke boer het sy eie gradeerder gehad en self sy lemoene gepak, wat dan per wa na Drew-stasie vervoer is en daarvandaan na die agente in die Kaap wat dit weer na die oorseese mark gestuur het.

Die groot geleentheid in die jaar was oestyd wat maar soms met groot teenspoed en verliese gepaard gegaan het. Na die graan afgesny is met die snymasjien wat vroeĂ«r jare deur perde getrek is, was baie gerwe los en moes dan eers vasgebind word voor dit in hope gepak is. Baie hande-arbeid was nodig. Elke gerf word op ’n wa gelaai en na ’n plek geneem waar ’n mied gepak word. Dit is ’n groot kuns om ’n goeie mied te pak wat nie van binne sal nat word as dit reĂ«n nie. Dan kom die groot wag vir die dorsmasjien. Jy moes maar jou beurt afgewag het tot die eienaar van die masjien by jou kan uitkom. Soos die masjien vorder, sluit werkloses by die proses aan en moet daar sekuur getel word vir hoeveel jy moet kos voorsien. Voor die tyd word ’n bees geslag. Geen koelkaste het ons geken nie. Die vleis word dan in pekelbalies gepak en elke dag word van die stukke vleis in die groot potte buite gaargemaak. 

Spesiale eetgerei wat na oestyd weggepak word, word van die solder afgehaal en massas kos word elke dag gekook en na die masjien geneem. Dik snye brood en boontjiesop en stampmielies was die aandkos. Elke sak graan wat geweeg en toegewerk is, word sorgvuldig getel want dit bepaal jou inkomste vir die jaar.

Ek wonder wat die moderne boer sou sĂȘ as hy sou sien hoe swaar sy voorouers moes werk om hulle geld te verdien. Ons het baie teĂ«spoed, droogte, te veel reĂ«n in oestyd en swak pryse geken. Ons het geen koelkaste, vrieskaste, elektriese stowe, wasmasjiene, warmwatertoestelle en elektriese pompe en ligte geken nie.

Later was geringe geriewe slegs in die dorpe beskikbaar wat kragstasies gehad het. Meestal was dit maar elektriese ligte. ’n Groot gerief wat ons later jare geken het, was die tuisgemaakte cooler. ’n Ronde sementvloer word gegooi en slepers wat deur die spoorweĂ« uitgegooi is, word in die rondte op die vloer op hulle koppenente staangemaak – ongeveer een meter uitmekaar. Dit word aan die binnekant met sifdraad uitgevoer en aan die buitekant oorgetrek met die sif. Die spasies tussen die slepers word dan opgevul met uitgebrande steenkool – ook van die spoorweĂ« – op stukkies baksteen. Bo-op word ’n ronde sinkbak gesit. Rondom die bak was ’n rand van ’n paar sentimeter hoog. Gaatjies word in die rondte bokant die bakstene gemaak. Water word in die bak gegooi en drup stadig op die bakstene. As dit goed nat is, word stokkies in die gaatjies gesteek. Heerlik koel om vleis, melk, room en botter in te bĂȘre.

Oom Dirk het baie lemoenboorde gehad wat tot onder die berg gestrek het. Omdat hy baie probleme en skade deur die bobbejane gehad het, het hy besluit om lemmetjieboorde naaste aan die berg te plant. Of die suur lemmetjies die bobbejane afgeskrik het, weet ek nie. 

Ons het ons verwonder aan die gasligte (Gloria Lights) wat oom Koos in sy hele huis aangelĂȘ het. ’n Groot luukse en groot gerief.

In Oupa se huis op Swellendam was ’n wit marmerkaggel. Toe Oupa oorlede is, het Lukas Odendaal die huis gekoop, dit gesloop en die kaggel in sy kafee ingebou. Later het die Koöp die kafee oorgeneem en vir ’n winkel gebruik. Ek het in 1969 by die direksie aansoek gedoen om die kaggel te koop. Dis aan my toegesĂȘ en ons het dit daar gaan uitbreek en in ons huis in Goree, Robertson gaan inbou waar dit nou nog is. Ek het R50 vir die kaggel betaal. 

Ons geslag het ons geleidelik by die moderne lewe aangepas. Die huidige geslag sal seker verstaan as ons en hulle oor baie dinge verskil. Aanvaar ons maar as julle dink ons is dom as ons nie alles verstaan nie. Ons het ook ons kant in die lewe gebring en die land help opbou.

Ons het sonder geriewe en vermaak grootgeword, maar het mooi herinneringe aan ’n gerieflike en veilige lewe.

Ek hoop die familie sal iets wys raak uit dié vertelling.

Ellie (Joubert) Loubser

Robertson

September 2001